Wingerdboer en wynmaker Andries Botha "AB" Rossouw is op Stellenbosch gebore. Sy pa was die bestuurder wynmaker by Eersterivier kelder buite Stellenbosch toe beide sy ouers op 16 Mei 1970 verongeluk. AB, sy broer en sy suster het by hul Oupa en Ouma gaan woon.
Sy oupa het die plaas Die Eike op Goudini besit wat hy in twee gedeel het om sy seun en dogter (AB se ma) elk 'n deel te kan gee. Die deel wat sy ma toegekom het is Swartrivier genoem. Aangesien AB se pa nie geboer het nie het sy oom ook op Swartrivier geboer. AB het in 1976 op Oakdale Landbouskool by Riversdal gematrikuleer en na sy twee jaar diensplig in die lugmag 'n diploma in wingerdbou en veekunde op Elsenburg behaal.
In 1981 begin AB as voorman op Swartrivier werk. Op 31 Maart 1984 is hy met Antionette getroud, 'n nooi Calitz wat op Louisvale groot geword het. Op 1 April 1984 neem hy die boerdery op Swartrivier oor en begin vir sy eie rekening wingerd verbou. Die eerste opdrag wat hy sy arbeiders gegee het was om 'n week vakansie te neem sodat hulle nuwe werkgewer op wittebrood kon gaan.
Andries Botha Rossouw